In vandag se kitswêreld van kommunikasie is dit noodsaaklik dat besighede ‘n sterk aanlyn-teenwoordigheid het. Dit geld vir skole ook!
Suid-Afrika is vierde op die lys van lande in die wêreld wat die meeste tyd aanlyn deurbring*. Die gemiddelde persoon is elke dag meer as 10 uur op die internet – amper 154 dae per jaar! Hierdie statistiek bevestig dat skole nie langer net op tradisionele maniere van bemarking en kommunikasie kan staatmaak nie.
Die publiek wend hulle toenemend tot die internet voordat hulle ‘n besluit neem, so aanlyn- en sosialemediakommunikasie het baie belangrik geword. 32% van verbruikers kyk eers na ‘n handelsmerk se sosiale media-teenwoordigheid voordat hulle na die organisasie se webwerf kyk.
Is sosiale media ‘n goeie platform vir skole om hulself te bemark?
Teen Januarie 2022 was daar al meer as 41 miljoen aktiewe internetgebruikers* in Suid-Afrika. Omtrent 28 miljoen van hulle gebruik sosiale media – dis sowat 46 persent van die totale bevolking.
Volgens die SOCIAL MEDIA LANDSCAPE REPORT 2022 bestempel groot handelsmerke sosiale media as die mees effektiewe vorm van bemarking. Daar is ook bevind dat Facebook steeds die gewildste sosiale media platform is, terwyl TikTok die grootste groei in Suid-Afrika getoon het.
“As skole moet oorweeg waar om energie, geld en tyd in te stoot in terme van sosiale media, sal ek definitief Facebook en TikTok aanbeveel,” sê Daleen Gouws, eienaar van Edge Communications. “Derde op my lys is beslis LinkedIn waar skole met ‘n sekere profiel ouer ‘n konneksie kan opbou, want dit is baie suksesvol vir kundige artikels en personeel aangeleenthede.”
Hoe doen ‘n skool dit?
Een praktiese manier om sosiale media beplanning te vergemaklik is om spesiale dae te gebruik om inhoud te skep. Dit is iets soos die viering van Valentynsdag of melktertdag. Iets lekker en anders buiten die gewone skooldag. Dit bied die kans tot gratis publisiteit.
“Skole moet kyk na alternatiewe praktyke. Een opsie is om ‘n bemarker aan te stel, maar vooraf ‘n bemarkings- of kommunikasieplan in plek te hê. Dit sal hierdie persoon help om te weet wat die skool wil bereik.
“’n Begroting vir vryskut mense wat die bemarker kan help om die kommunikasiedoelwitte te bereik is ‘n goeie idee,” raai Daleen aan. “Dis ‘n goedkoper manier is om kundige, maar unieke werk verrig te kry. Sulke kundiges kan digitale bemarkingspesialiste, grafiese ontwerpers, webontwikkelaars en kopieskrywers insluitDie bemarker koördineer dan die uitvoering van die goedgekeurde plan teen ‘n fraksie van die prys van ‘n totale bemarkingspan doen.”
Agentskappe soos Edge Communications het gewoonlik ook pakkette wat pasgemaak is om die fasette van die skool deur verskeie kanale, aanlyn en tradisioneel, te bemark. Agentskappe het ook ‘n span kundiges wat spesialiseer op elke gebied van kommunikasie en bemarking. Hierdie pakkette kos meestal dieselfde as een persoon se salaris.
Wat is geïntegreerde bemarkingskommunikasie en wanneer is dit suksesvol?
Geïntegreerde bemarkingskommunikasie kombineer verskeie kanale en media soos e-posse, digitale advertensies op Google, plakkate, radio, sosiale media en Whatsapp om ‘n konsekwente boodskap aan ‘n spesifieke gehoor oor te dra. Die grootste uitdaging vir skole is om kreatief en anders, dog prakties sinvol te dink oor bemarkingsveldtogte.
Die manier hoe jou skool aan die buitewêreld vertoon is uiters belangrik. Die gebruik van die skool se handelsmerk en die gevoel wat dit oordra, moet konsekwent toegepas word. Of dit nou die WhatsApp-groep, webwerf, sosiale media bladsye, briewe, of hoe jul vertoon by sportdae, dit moet konsekwent wees.
“Jy kan nie die naaste persoon nadertrek om ‘n webblad vir ‘n skool te skep nie. Die strategiese plan, reputasie, handelsmerk en korporatiewe identiteit moet deeglik gevolg word in die oprigting van enige planne wat die skool se handelsmerk bevat,” raai Daleen aan.
“Sosiale media is steeds die goedkoopste vorm van bemarking met die hoogste terugvoer. Maar moenie afskeep nie! Kry iemand, of ‘n agentskap, wat die sosiale media omgewing ken om hand by te sit.”
*Volgens Statista.com